ADVERTORIAL

OLD MUTUAL

FAMILY BUSINESS

Wat is ’n mislukte staat?- Suid Afrika

NÁ die byna 10 “verlore” jare van die Jacob Zuma-en-Gupta-treurmare, is dit vergesog om te dink dat Suid-Afrika oor nog 10 jaar ’n mislukte staat kan wees?

Nie heeltemal nie, maar dis beslis ook nie onafwendbaar nie. Die gevolge van Covid-19 gaan dit nog moeiliker maak om die land terug op ’n pad na groter welvarendheid te plaas, maar die boustene om algehele verval te verhoed word stadiger maar seker reeds in gereedheid gebring.

Eunomix, ’n Johannesburgse konsultasiefirma, voer in ’n onlangse verslag oor Suid-Afrika aan dat indien die land nie dramaties wegswenk van die negatiewe tendenslyn van die onlangse verlede nie, ons afpyl om teen die einde van die dekade ’n mislukte staat te wees.

Wat is ’n mislukte staat?
Voordat spesifieke kommentaar hierop gelewer word, is dit belangrik om eers terug te staan en te verstaan wat dit beteken om ’n mislukte staat te wees. Die konsep word soms verkeerd gebruik om ook lande te beskryf wat nie naastenby aan die “vereistes” van ’n mislukte staat voldoen nie.

Daar is verskillende weergawes van definisies oor wat ’n mislukte staat is, maar breedweg beskryf dit ’n situasie waar ’n onafhanklike (soewereine) nasiestaat nie meer doeltreffende beheer oor die bevolking van die staat (land) en die staat se hulpbronne kan uitoefen nie en ook nie die vermoë het om sy landsgrense doeltreffend te polisieer nie. So ’n staat het voorts nie die kapasiteit om basiese dienste te lewer nie. Mettertyd verloor die staat dan legitimiteit in die oë van landsburgers, asook die internasionale gemeenskap.

Somalië word as ’n sprekende voorbeeld van ’n mislukte staat beskou. Dis ’n land waar ’n langdurige burgeroorlog, intense faksiegevegte en algehele anargie waar krygshere en seerowers doen wat hulle wil, so erg geraak het dat ’n funksionerende regering en staat onmoontlik is.

Dis ook belangrik om hier tussen die regering en die staat te onderskei. Die regering is slegs een deel van die staat en verwys na die burokrasie (persone) wat die staatsmasjinerie beheer. Die staat is ’n breër konsep wat behalwe die mense wat in die kabinet sit, ook ’n rits ander instellings insluit. Hier kan ’n mens byvoorbeeld dink aan die howe, inkomstediens, semistaatsinstellings soos Eskom en Transnet, die Reserwebank en vele ander. Hoewel baie van die instellings in ’n goed funksionerende stelsel hul daaglikse take grootliks onafhanklik van die heersende regering uitvoer, is hulle almal deel van die oorhoofse staatsmasjinerie. Dit kan dus wees dat die staatsburokrasie ondoeltreffend is, maar ander dele van die staat steeds goeie diens lewer. In Suid-Afrika staan die Reserwebank uit as so ’n instelling, terwyl die regbank ook ’n belangrike teenwig vir die vergrype van burokrate (en gewone landsburgers) is.

Waar pas Suid-Afrika in?
Op grond van die definisie van ’n mislukte staat moet ’n mens nogal jou verbeelding gebruik om te redeneer dat Suid-Afrika tans aan die vereistes voldoen. Ons is bloot gewoon myle ver van die situasie in ’n plek soos Somalië. Neem byvoorbeeld die vermoë van ’n staat om groot getalle mense te beheer.

Mense hoef nie verder as die drakoniese vlak-5-grendelstaat van April te dink om te besef dat die Suid-Afrikaanse staat die monopolie op dwangkrag (“coercive power”) het om massas mense te “dwing” om iets te doen wat hulle nie uit vrye wil sou doen nie. Suid-Afrikaners het (grootliks) die inperkingsreëls gehoorsaam. Hoekom? Omdat algemeen besef is dat dit gevolge sou inhou indien die reëls verbreek word. Die oordrewe hardhandigheid van die polisie en weermag in die vroeë stadium van die inperking het moontlik ook hiertoe bygedra. Maar dis juis die punt: In dié stadium het die Suid-Afrikaanse staat die vermoë om wette en vasgestelde reëls af te dwing.

Daar is nie ’n totale “free for all” in Suid-Afrika waar elke landsburger kan doen net wat hy of sy wil nie. Hopelik kan ons dus saamstem dat Suid-Afrika nie op die oomblik naastenby voldoen aan die definisie van ’n mislukte staat nie.


Voordat lesers in hul oggendkoffie stik, besef ek terdeë dat ’n klomp gevaarligte in Suid-Afrika flikker.

’n Mens hoef nie te hard te dink oor vele gevalle waar die staat uiters swak presteer nie. Weer eens is dit belangrik om te besef dat dit iets anders is as om te sê ons leef in ’n mislukte staat. Waarskuwingsligte flikker nietemin oral. Die probleme is welbekend, maar net die volgende, ter wille van konteks:

Misdaad, 'n reuseprobleem. ’n Mens sou kon sê dele van die Kaapse Vlakte is reeds onregeerbaar met bendes wat gemeenskappe gewelddadig teister. Die feit dat gesondheidspersoneel nie sonder polisiebegeleiding by van die gemeenskappe wil ingaan nie, spreek boekdele. Die voortdurende plaasaanvalle- en moorde is nog ’n voorbeeld. Afgesien van die persoonlike pyn en lyding wat die aanvalle veroorsaak, word Suid-Afrika se voedselsekerheid in die gedrang gebring. Dan wys syfers van die departement van vervoer dat 1,200 vragmotors en hul vragte die afgelope drie jaar in geweldpleging vernietig is. Dit het die ekonomie R1.2 biljoen gekos. Dit kan mos nie in ’n goed funksionerende staat gebeur nie?
Grensbeheer wat nie op peil is nie. Miljoene onwettige immigrante bevestig dit.
Opeenvolgende jare waarin die groei in die bruto binnelandse produk (BBP) nie met die bevolkingsgroei tred gehou het nie. Suid-Afrikaners het per capita verarm.
Ongekende werkloosheid. Selfs voordat die Covid-19-skok ons werklik in die tweede kwartaal getref het, het Stats SA se arbeidsmagpeiling vir die eerste kwartaal van 2020 gewys dat daar sewe miljoen werkloses tussen die ouderdom van 15 en 64 in Suid-Afrika is. Die amptelike werkloosheidskoers was 30%. Daar word al lank gewaarsku dat dit nie ’n volhoubare situasie is nie. Die fiskale ruimte om aan al hoe meer mense ’n maatskaplike toelae te betaal, is ook uitgeput.
Die behuisingskrisis. Die wesenlike armoedeprobleem is op verskeie areas sigbaar, insluitend die tekort aan formele behuising en ordentlike sanitasie vir miljoene mense.
Uiters swak basiese onderwys, veral in arm en landelike gebiede. Dit vererger die armoede- en werkloosheidsprobleem aangesien skoolverlaters in baie gevalle nie voldoende basiese vaardighede het vir verdere studie nie.


Die toenemende las op die privaat sektor. ’n Tyd gelede is genoem dat mynboumaatskappye verantwoordelikheid vir die lewering van sekere basiese dienste in nabygeleë gemeenskappe moet oorneem. Die probleme wat Astral Foods met waterverskaffing ondervind weens die versuim van die Lekwa-munisipaliteit in Mpumalanga om basiese infrastruktuur in stand te hou, is ook welbekend. Daar is ook ander voorbeelde van agteruitgang.
Miskien is dit ook belangrik om teen hierdie agtergrond te herhaal wat pres. Cyril Ramaphosa verlede week aan joernaliste gesê het. Volgens hom was die land teen die einde van die Zuma- fiasko op pad na “totale wanfunksionering”.

Volgens Business Day het die president verder gegaan deur te sê “die stelsel is só verswak dat ons vanuit die onbevoegdheid van ’n oorlogsone kom”. Sterk woorde.

Dit was die eintlike punt van die navorsing deur Eunomix: Suid-Afrika is nie nou ’n mislukte staat nie, maar as die bogenoemde negatiewe tendense nie omgedraai word nie, kan ons binne 10 jaar wel wees.

Lees die volle berig op Vryeweekblad. 


ADVERTORIAL

HOLLARD

 LANDBOU 

Farming Diary

Oct
29

10.29.2020 4:00 pm - 5:00 pm

Nov
4

11.04.2020 4:00 pm - 5:00 pm

Apr
7

4:00 pm 04.07.2021 - 5:00 pm 04.09.2021

AGRI NEWS NET