WAAROM IS SEKSIE 25 SO BELANGRIK?- Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

“‘n Belangrike aspek van die ANC-regering se beleid oor grondonteienng sonder vergoeding is die vraag waarom die wysiging van Seksie 25 van die Grondwet so belangrik is as dit volgens feitlik alle regsmenings en ander opinies alreeds grondonteiening sonder vergoeding moontlik maak.

Terwyl die feit dat hierdie beleid vernietigende gevolge vir die volhoubaarheid van landbouproduksie, voedselsekerheid en ekonomiese groei sonder enige twyfel sal inhou, nie belangrik geag word nie,” sê Fanie Brink, ‘n onafhanklike landbou-ekonoom
 
Brink sê die ANC het reeds in Julie vanjaar ‘n duidelike besluit geneem om met die implementering van sy grondonteieningsbeleid voor te gaan, ten spyte daarvan dat die Grondwetlike Hersieningskomitee toe nog nie eers sy verslag daaroor afgehandel het nie. Die Komitee was baie duidelik ook nie van plan om dit binne die voorgeskrewe grondwetlike prosedeure te doen nie. Spesifiek ten opsigte van die aard en omvang van die grondwetlike verpligtinge van die regering se wetgewende liggaam wat volgens Seksie 59 van die Grondwet hom verplig om openbare betrokkenheid by sy wetgewende prosesse en sy komitees te fasiliteer, en die gevolge van die versuim om daaraan te voldoen.

Ook gesien in die lig van die feit dat die voorgestelde mosie in hierdie verband wat in Februarie vanjaar deur die Nasionale Vergadering van die Parlement aanvaar is, die voorwaarde dat dit nie die landbou, voedselsekerheid en die ekonomie moet benadeel nie, totaal geïgnoreer en verwerp het. Daarom was dit ook nie ‘n opdrag aan die Komitee dat hierdie voorwaarde tydens die openbare verhore bespreek moes word nie en dat die kommentare daaroor in die skriftelike voorleggings aan die Komitee ook in aggeneem moes word.

Die vraag ontstaan waarom sal die landboubedryf sy rykdom van ondervinding en kundigheid met die regering wil deel indien die regering die land se kommersiële boere se grond sonder vergoeding gaan onteien en hulle daardeur alles gaan verloor wat hulle besit?

“Ek kan geen goeie rede hiervoor vind nie. Daarom is dit onverstaanbaar ​​waarom die wysiging van die Grondwet so belangrik is want of dit nou verander sou word of nie dit sal geen verskil maak nie, aangesien dit alreeds onteiening moontlik maak sonder vergoeding. Die deurslaggewende verskil van grondonteiening sal baie eerder die negatiewe gevolge wees wat dit op landbouproduksie, voedselsekuriteit en ekonomiese groei sal hê.”

Die ANC-regering is lankal besig om die ekonomie en die land eers te vernietig en om dit dan van die privaatsektor te verwag om tot die land se redding te kom sonder dat die privaatsektor inspraak het en voorwaardes kan stel oor die buitensporige belastinglas wat die belastingbetalers moet dra en die wanaanwending van staatsfondse.  

Daarom behoort die privaatsektor myns insiens eerder vir ‘n slag op te staan en weg te stap van hierdie wettelose en korrupte ANC-regering om ‘n einde aan die vermorsing van die belastingbetalers se geld, asook die herverdeling en die vernietiging van die land se bates en welvaart te bring. Selfs al sou dit deur middel van internasionale sanksies teen die regering afgedwing moet word.

Die privaatsektor kan nie langer aanhou om aan hierdie proses deel te neem sonder om spesifieke en duidelike voorvereistes daaraan te koppel nie. Die ANC se beleid is reeds besig om die hele bevolking op ‘n dramatiese wyse te benadeel, terwyl dit ook groot menselyding as gevolg van baie groter armoede en ongekende hongersnood sal meebring.

“Die ANC-regering het nog net 5 jaar nodig om die ekonomie en die land totaal te vernietig!”