Geleentheid vir groter groei in die Suid-Afrikaanse landbou

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Daar is ’n geleentheid vir groter groei in die Suid-Afrikaanse landbou as wat in die algemeen in die vooruitsig gestel word indien daar vorentoe belê en gekoördineer word op ’n manier wat tot voordeel van die sektor in sy geheel is.

Dít was die boodskap van prof. Ferdi Meyer, direkteur van die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) tydens die buro se bekendstelling verlede week van die jongste landbouvooruitskouing vir die tydperk 2020 tot 2029. Die vooruitskouing dui op trae groei vir die sektor vir die res van die dekade, maar die landbou se BBP kan teen 2029 tot 12% hoër wees as daar ware inklusiewe groei en ontwikkeling is.

Hy het gesê die voorwaarde daarvoor is vier pilare bestaande uit beleggings, ondersteuning en innovasie, infrastruktuur en markte. Hierdie vier faktore moet saamgevoeg word deur doeltreffende en gekoördineerde instellings en departemente op al drie vlakke van regering. “As ons van beleggings praat, praat ons van ’n beleggingsvriendelike omgewing waar daar sekerheid van eiendomsreg en hulpbronne soos water is, asook veiligheid op plaasvlak. Wat die komponent van ondersteuning en innovasie betref, kyk ons na dinge soos finansiering, beleidsondersteuning, doeltreffende voorligtingsdienste, doeltreffende navorsing en inligtingsdienste.” Meyer het gesê met infrastrukuur word verwys na paaie, elektrisiteit en varsproduktemarkte wat ook geskik is vir kleiner boere om hul produkte te lewer. “Verder praat ons van waterinfrastruktuur en hawens wat in staat moet wees om uitvoer te hanteer.

“Laastens is daar die markte waar groter marktoegang geskep moet word. Daar moet meer bilaterale handelsooreenkomste wees en die regering moet saam met die bedrywe bepaal wat voorkeur moet geniet sodat groei bewerkstellig kan word.” In haar vooruitskouing vir die vernaamste bedrywe het dr. Tracy Davids, bestuurder van kommoditeitsmarkte en vooruitsigte by BFAP, gesê daar moet vir hoër gemik word as waarvoor in die vooruitskouing voorsiening gemaak word. “Daar moet gemik word vir versnelde groei. Die vooruitskouing maak voorsiening vir ’n ‘besigheid soos altyd’- scenario en dit sal nie goed genoeg wees as ons die toekoms suksesvol wil aandurf nie.” Sy het gesê dit sal afhang van instellings en departemente op alle vlakke se vermoë om doeltreffend en gekoördineerd saam te werk om die strategieë suksesvol toe te pas. In die vooruitskouingsverslag word dit beskryf as ’n doelbewuste poging om “die kurwe te buig” om by die versnelde groei van 12% bo die verwagting teen 2030 uit te kom.

Daar word verwys na die beplanning van ’n meesterplan vir die landbou en landbouverwerking waaraan op die oomblik gewerk word en waarvan die sukses sal afhang van ’n vennootskap tussen die regering, arbeid en die landboubedryf. Daar word egter ook gewaarsku dat dit nie nodig is om die wiel te herontwerp nie en dat daar nie ’n kitsoplossing bestaan om die kurwe te buig nie. Daar was al talle verslae oor wat gedoen behoort te word. Wat nou nodig is, is die toegewyde en gekoördineerde toepassing van weldeurdagte aksieplanne deur almal betrokke.

Die Mededingingskommissie se bevindings oor die landbou klop nie met Statistieke SA se syfers oor die vlak van konsentrasie in die sektor nie en daar is altyd ’n gevaar van veralgemening, sê die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) in reaksie op die kommissie se verslag. BFAP het in reaksie op die verslag in sy eie siening oor mededingendheid en konsentrasie in die landbouwaardeketting gesê sommige ontleders glo daar is reeds oorkonsentrasie in die sektor, ander sien toenemende konsentrasie en ander het geen probleem met die wyse waarop markte in die sektor funksioneer nie.

Die omvang van markkonsentrasie in die landbou is ’n voortdurende onderwerp vir ’n debat vanweë die ingewikkeldheid van die land se voedselstelsels en daar is altyd die gevaar van veralgemening, sê BFAP in sy verslag. Hoewel beleid daarop gerig moet wees om dualisme in die sektor en struikelblokke wat mededinging beperk, uit die weg te ruim, moet die ingewikkeldheid van die sektor in ag geneem word. BFAP sê eerstens moet besef word dat die landbouwaardeketting baie wyer strek as insetverskaffers, produsente en verwerkers.

Die tentakels van die sektor sprei deur die hele ekonomie en sluit dele van die vervoer- en opbergingsektor, kleinhandel, groothandel, persoonlike dienste, finansiële dienste en huisvesting in. Dit moet alles in ag geneem word om markkonsentrasie te bepaal.’n Vergelyking van Statistieke SA oor die top-20 ondernemings se verdienste vergeleke met die totale inkomste van ’n sektor plaas die landbou met 12% heel onder op die lys, selfs met die insluiting van groot ondernemings wat suiker, pluimvee, vleis en eiers produseer.

Landbouverwerking staan op 52%, wat dieselfde is as die kleinhandel en vervaardigingsbedrywe soos chemikalieë, glas en metaal. Konsentrasie vind die meeste by staatsondernemings en sektore soos mynbou (73%), visserye (78%), bosbou (80%) en posdienste (86%) plaas –  BFAP het ook na die Mededingingskommissie se voorbeeld van die afname in melkboere verwys en gesê pleks daarvan om aan te neem die afname is veroorsaak deur die oorheersing van die mark deur groot boere, het hy die markdinamika oor die tydperk ontleed. Die reële plaashekprys van melk het sedert 2007 oorhoofs gedaal, terwyl produksie gestyg het – sien

. Weens die dalende pryse moes boere aanpas. Die moontlikhede was om produktiwiteit te verhoog deur uit te brei, om melkboerdery te laat vaar en om na dele van Suid-Afrika te verskuif waar produksiekoste laer is. Vir meer as ’n dekade is daar al die neiging dat melkboere in die binneland (waar voer aangekoop moet word) die bedryf verlaat. In kusgebiede, waar daar natuurlike weiding is, het boere se getalle nie in dieselfde mate afgeneem nie. GEBREK AAN DATA Die antwoord oor markkonsentrasie lê daarin om na die getalle van alle boere in SuidAfrika te kyk, maar daar is ’n gebrek aan data.

Die landbouekonome mnr. Wandile Sihlobo en prof. Johann Kirsten verwys in ’n hoofstuk van die Oxford Handbook of the South African Economy, wat eersdaags gepubliseer word, na opnames wat daarop dui dat daar in 2017 meer as 92 000 huishoudings in SuidAfrika was wie se hoofinkomste uit die landbou was, en ’n verdere 122 000 vir wie dit ’n sekondêre bron van inkomste was. Daarby was daar, volgens die 2017-landbousensus, 40 000 boere vir BTW geregistreer. Sihlobo wys daarop dat dié prentjie onvolledig is omdat dit net boere ingesluit het wat vir BTW geregistreer is. “Die meeste boerderyeenhede in Suid-Afrika is klein ondernemings met ’n jaarlikse inkomste van minder as R500 000. Dit is ’n mistasting om te sê alle kommersiële plase is groot ondernemings. Bykans 90% van dié wat vir BTW geregistreer is, is kleinskaalse of mikro-ondernemings.” 

Hy sê die “romantiese” prentjie van kleinskaalse boerderye neem nie in ag dat sowat 70% van die bevolking verstedelik is nie. Grootskaalse ondernemings is nodig om hulle van veilige en bekostigbare voedsel te voorsien, terwyl kleinskaalse boerderye van deurslaggewende belang is vir die informele waardekettings in landelike gebiede. “Die volgehoue mite oor kommersiële plaasgroottes en getalle wat afneem, trek die aandag af van die werklike beleidsoplossings wat groei en werkskepping in die sektor kan bevorder. Die klem moet nou wees op onderbenutte grond in ou tuislande en grondhervormingsplase.

Die Mededingingskommissie het, onder meer gegrond op syfers uit die melkbedryf, sy kommer uitgespreek oor die afname in die getal boere en die hoë vlak van konsentrasie in die hele voedselwaardeketting en gesê dit benadeel geleenthede vir kleiner boere en vir transformasie. Die ekonomiese navorsingsburo van die kommissie sê in ’n verslag daar is ’n kommerwekkende afname in die deelname van kommersiële produsente en dat inset- en uitsetbedrywe meer gekonsentreerd raak. Om sy punt te staaf, verwys hy daarna dat die aantal melkboere sedert 2007 met 73% afgeneem het, van 3 899 tot 1 053 vanjaar.

Die kommissie het bevind dat die landbouwaardeketting hoogs geïndustrialiseerd is en gekenmerk word deur superkommersiële produksie deur groot boerderye, asook gekonsentreerde insetverskaffers en verwerkers. Dié struktuur hou volgens die buro die risiko in om kleiner boere se winsgrense onder druk te plaas omdat insetverskaffers wat oor die markkrag beskik, insetkoste vir kleinboere verhoog, terwyl verwerkers hul koopkrag kan aanwend om die pryse wat dié boere ontvang, laer te druk. Die kommissie sê een van die doelwitte van regulasies oor mededingendheid is om konsentrasie in die mark te verminder, pryse verlaag te kry en mededingendheid te bevorder. Daarom word navorsing gedoen oor neigings in deelname aan die ekonomie, en daar is bevind die vlakke van konsentrasie in die ekonomie neem toe en dele van die landbouwaardeketting staan uit in dié verband. Die verslag het wye reaksie en kritiek ontlok en daar word onder meer gesê die kompleksiteit van die landbousektor is nie in ag geneem nie en dat dit gegrond is op veralgemenings.

Luidens die verslag belemmer die “groot skaal of niks”-dinamika in die voedselkettings die geleenthede vir kleiner boere om by die landbou betrokke te raak. Daarom is die landbousektor gekies as een van die sektore wat geraak gaan word deur nuwe wysigings in die Mededingingswet wat koopkrag betref, om die speelveld meer gelyk te maak vir kleiner deelnemers en om hul potensiële uitbuiting deur dié wat oorheers, te verhinder. Vanuit ’n beleidsperspektief word kleinboere in Suid-Afrika beskryf as diegene “wie se skaal van boerdery te klein is om die dienste te bekom wat nodig is om produksie noemenswaardig te verhoog”. Deur die navorsing is bevind dat kleinboere verhinder word om te groei weens faktore soos ’n gebrek aan toegang tot finansiering, swak infrastruktuur en min toegang tot markte. Die verslag stel dit ook dat beleidmakers en die mededingingsowerhede bekommerd is oor die situasie. Die landbouwaardekettings sal dalk moet verander as die regering sy doelwitte vir transformasie en mikpunte wil bereik om die landbou te laat groei ter wille van ekonomiese herstel.

LEES die volledige artikels op die skakel BO