Wyndruifprodusente in Suid Afrika maak reg vir 2020-seisoen

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Met die 2019-wyndruifseisoen agter die rug, rus Suid-Afrikaanse produsente hulself reeds toe met kennis oor navorsingsbevindinge, tegnologie en beste praktyke om hul wingerde te beskerm en vir die 2020-oes voor te berei.

Die winsgewendheid van wyndruifverbouing sien meer positief daaruit nadat produsente vir meer as 'n dekade onder groot finansiële druk gebuk gegaan het. Volgens Vinpro landbou-ekonoom Pierre-André Rabie het lae voorraadvlakke internasionaal - en plaaslik vanweë 'n kleiner wyndruifoes in 2018 en 2019 - daartoe bygedra dat wynpryse in sekere kategorieë begin toeneem het. 'Ons wil produsente en alle wynverwante besighede aanmoedig om 'n gefokusde benadering te hê en effektiwiteit regdeur die waardeketting op te skerp, om te verseker dat 'n volhoubare inkomste na ons primêre produsente deurvloei,' het Pierre-André gesê.

Klimaat se effek op 2019-oes

Die 2018/19 wyndruifseisoen is gekenmerk deur temperatuurskommelinge wat tot 'n kleiner oes bygedra het. Dr Albert Strever van die Universiteit van Stellenbosch het hierdie aan die hand van weerstasiedata in die Worcester- en Breedekloofstreke toegelig.

Die voorseisoen was koeler as gewoonlik, maar 'n hittegolf in Oktober kon 'n negatiewe effek op die seldelingsfase van die ontwikkelende korrels gehad het, veral in vroeë kultivars soos Chardonnay. Reënval in Maart en 'n hoër relatiewe humiditeit, tesame met laer temperature het ook 'n negatiewe effek op suikervlakke gehad.

Aan die positiewe kant kan die koeler weer wat in die na-oesperiode tot later blaarval lei, voordeling wees vir die opbou van reserwes. 'Dis egter belangrik om daarop te let dat die wingerdstok se fenologie en die klimaat nie die enigste faktore is wat 'n invloed op die oes het nie. Besproeiings- en bemestingsbestuur, grondtipes en vele ander faktore dra ook tot die grootte en gehalte van die oes by,' het Albert gesê.

Kies die regte dekgewasse

Dekgewasse word in die na-oesperiode gesaai, wat die organiese koolstofvlakke in grond verhoog, waterhouvermoë en deurlugting verbeter en erosie in grond verminder. Ivan Jansen van Rensburg van Barenbrug het terugvoer gegee oor proewe wat deur die Gen Z-wingerdprojek met nuwe dekgewastipes uitgevoer is.

'Phacelia, Barpower (voerrog) en Moby (voergars) word voorgestel as alternatiewe dekgewasse teenoor die alombekende korog. Barpower is veral droogtebestand en produseer hoë vlakke van biomassa,' het Ivan gesê.

Hy het voorgestel dat produsente dekgewasse op 'n rotasiebasis saai om te voorkom dat dieselfde probleme jaarliks voorkom, en het die belangrikheid daarvan beklemtoon om erkende saadverskaffers te gebruik vir goeie gehalte saad wat nie onkruid bevat nie.

Kry onkruid onder beheer

Dekgewasse word ook saam met ander onkruidbeheerstrategieë gebruik om onkruidgroei te onderdruk. Pieter le Roux van Villa Crop sê die mees ooglopende onkruidtipes is kweekgras, raaigras en vaalskraalhans.

'Dis belangrik dat die regte onkruiddoder in die grond aangewend word voor die saad ontkiem, en sodra die onkruid sigbaar is, moenie wag tot dit te groot is voor jy onkruiddoder begin toepas nie,' het Pieter gesê.

Volgens Andrew Bennet van Bayer is dit bevestig dat glifosaat, een van die bekendste onkruiddoders, 'n veilige en effektiewe manier is om onkruidbeheer toe te pas om uiteindelik 'n positiewe effek op produksie te hê.

Elimineer siektes en plae

Buiten die toepassing van onkruidbeheer moet wyndruifprodusente ook 'n reeks wingerdsiektes en plae afweer en bestuur, onder andere fitoplasmas soos Astervergeling. Gert Pietersen van Pathsol het bevindinge van Tropic Safe gedeel, 'n gesamentlike navorsingsprojek oor Astervergeling en ander fitoplasmas tussen verskeie navorsingsinstansies en organisasies van regoor die wêreld, insluitende Winetech en Vinpro.

Deur toegewyde navorsing is die bedryf nou in staat om vektore vir hierdie fitoplasmas, asook alternatiewe gasheerplante, te identifiseer en bevestig. Sodoende kan 'n aksieplan opgestel word om hierdie skadelike parasiete te verminder en selfs uit te wis.

Belê in jou mense

Al hierdie praktyke is belangrik om gesonde, produktiewe wingerde te verseker. Dis egter net so belangrik vir wyndruifprodusente om deur vaardigheidsontwikkeling en opleiding in hul mense te belê. Volgens Kachné Ross van Winetech se leer- en ontwikkelingsafdeling, vang 'n aanlyn Leerderondersteuningstelsel (LMS) opleiding op verskeie vlakke in die bedryf vas en kan dit aan produsente 'n gratis, pasgemaakte instrumentpaneel bied van al die opleiding wat hul werknemers voltooi het.

Skakel in en word geïnspireer

'Winetech befonds en koördineer navorsing wat relevant en tot voordeel van die bedryf en ons produsente is,' het Lucinda Heyns van Winetech gesê. 'Ons moedig alle wyndruifprodusente en kelders aan om die onderskeie tegnologie-oordragkanale, onder andere inligtingsdae, tydskrifte, artikels, navorsingsverslae en nuusbriewe te gebruik om hulself met kennis toe te rus en geïnspireer te word om in hul besighede te innoveer.'

Die volgende reeks Winetech Vinpro Inligtingsdae word in September aangebied. Besoek www.vinpro.co.za vir meer inligting.