Suid Afrika wynbedryf reik tweede oesskatting uit

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Genoegsame water en ʼn matige rypwordingsperiode het daartoe gelei dat die 2020 Suid-Afrikaanse wyndruifoes ietwat groter as in 2019 kan wees, maar steeds kleiner as die langtermyngemiddeld.

Volgens die Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting- en Stelsels (SAWIS) het wyndruifprodusente in 2019 ʼn opbrengs van 1.244 miljoen ton gerealiseer, en die gemiddeld oor die afgelope vyf jaar beloop 1.360 miljoen ton. Wingerdkundiges en kelders het die nuutste oesskatting middel Januarie ingedien, nadat die eerste skatting in Desember uitgereik is.

Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se wingerdkundige konsultasiediens het tydens die Nedbank Vinpro Inligtingsdag verlede week vertel dat die 2020-parsseisoen oor die algemeen minstens ʼn week vroeër afgeskop het.

Redes vir die nuutste oesskatting sluit ʼn verskeidenheid klimaatsfaktore in. “Blom en set was oor die algemeen goed en ʼn verbetering op wat ons in die vorige seisoen gesien het. Genoegsame water en hitte het wingerdgroei bevorder en die wingerde se lowers is daartoe in staat om ʼn goeie oes ryp te maak. Deurslaan was vroeg, vinnig en egalig,” sê Conrad.

Tot dusver is die somer groeitoestande oor die algemeen koel en gemagtig. Produsente het vanjaar meer water beskikbaar as in die vorige seisoen, dus kan besproeiing gedurende die rypwordingsfase toegepas word indien nodig.

Conrad sê hoewel dinge op hierdie stadium meer rooskleurig daaruit sien vir die meeste streke, het die Noord-Kaapstreek grootskaalse rypskade ondervind, die Olifantsrivierstreek herstel steeds na die vorige jare se droogte en dele van die Klein Karoo gaan nog gebuk onder ʼn voortslepende droogte. In hierdie streke word ondergemiddelde oeste verwag.

“Ons sien in die kelders wat reeds begin pars het, dat hulle goeie tonnemate afgehaal het, en dat die druiwe mooi kleur, hoë sure en lae pH’s het,” sê Conrad. Hy raai produsente aan om baie tyd gedurende parstyd in die wingerd te spandeer om trosmonsters te neem en grondwaterinhoud te monitor vir effektiewe watertoediening.


Newsletter Subscribe