Rachel du Preez - Winner -Technical Article - 2023

Rachel du Preez - Winner -Technical Article - 2023

User Rating: 5 / 5

Star ActiveStar ActiveStar ActiveStar ActiveStar Active
 

Rachel du Preez - Winner -Technical Article - 2023

Hollard Insure and Farmingportal.co.za and Agri News Net - Young Agri Writers awards

TOP JOU MIELIEOES OP – met topbemesting

Nuwe generasie kultivars se groeiseisoen is oor die algemeen korter, terwyl die opbrengste hoër is. Dit bring mee dat 'n groter hoeveelheid voedingstowwe oor 'n korter periode opgeneem moet word. Daarom word die belangrikheid van die regte - en tydige bemesting vir mielies in hierdie artikel beklemtoon. Die produsent se voetspore moet dus in sy lande wees om te verseker dat kontantgewasse optimaal bestuur word.

 

Mieliegroeistadiums

'n Mielieplant ontwikkel aanvanklik stadig en neem ongeveer 21 - 35 dae na-opkoms om vyfblaar-stadium (V5) te bereik. Hierna neem die groeitempo drasties toe en word die blomperiode ongeveer 55 - 85 dae na-opkoms bereik. Ongeveer 680 - 730 hitte-eenhede tot 50% blomperiode word benodig en konstante vogvoorsiening speel 'n belangrike rol in die groeitempo van mielies (Labuschange & Van Zyl, 2015).

Die belangrikste groeistadiums van 'n mielieplant kan in vier fases opgedeel word:

  • Opkoms tot V5
  • V5 tot pluim
  • Pluim tot hardedeeg
  • Hardedeeg tot fisiologies ryp

 

In die eerste fase vind daar geweldig baie selverdeling en -verlenging in die bogrondse groei, asook in die wortels plaas. Die opbrengspotensiaal en die aantal rye per kop word reeds by V5 vasgelê.

'n Gebalanseerde voeding van makro-elemente (N, P en K), sekondêre elemente (S, Ca en Mg) en mikro-elemente (Cu, Fe, Mn, Zn, B en Mo) moet dus tydens V5 vir plantopname beskikbaar wees. Hulpmiddels soos blaar- en sapmonsters kan gebruik word om te verseker dat daar geen voedingstekorte op hierdie stadium voorkom nie.

FIGUUR 1 : Die vierblaar-stadium (V4) van 'n mielieplant – vier blare ten volle ontwikkel. Die blaarskede van die vier blare vorm 'n “kragie” om die hoofstam (Agtag, 2017).

 

Vanaf V5 tot by pluim neem die groeitempo drasties toe en bereik 'n piek ongeveer 49 - 70 dae na opkoms. Die finale opbrengspotensiaal (pitte per ry en die kopgrootte) word by V12-stadium bepaal. Die bepaling van die aantal pitte per ry is egter eers teen ongeveer V17 voltooi. Gedurende V12 sal die stutwortels begin vorm en die plant uiters gevoelig vir voedings- en vogtekorte wees.

Van pluim tot hardedeeg word die meeste van die fotosintaat na die kop (swelgpunt) vervoer en begin die tempo van voedingsopname afneem. Droogte en/of koue tydens hierdie groeistadium kan 'n laer pitgewig tot gevolg hê. Indien blare in die oggend reeds toedraai weens vogstremming kan oesverliese van tot 3% per dag verwag word (Agtag, 2017).

 

Opname van voedingstowwe deur mielies

Vir 'n doeltreffende bemestingsprogram vir 'n beraamde opbrengs, moet die bydrae wat deur die grond gelewer word, die verwyderingsyfers van die vorige gewas, asook die voedingsbehoeftes van die gewas sinvol aangepas en beplan word. (Tabel 1).

GEWAS

BEMARKBARE PRODUK VERWYDER

PLANTVOEDINGSTOWWE VERWYDER DEUR 1 TON BEMARKBARE PRODUK (KG/TON)

 

N

P

K

Ca

Mg

S

 

Mielies

Graan

15

3

4

0.5

1

4.5

Hele plant*

27

4.5

20

5

4.5

4.5

Sojabone

Hele plant*

75 - 100

8

25 - 35

 

 

8

Sonneblom

Graan

28

3.7

6

 

 

4.5

Grondbone

Hele plant*

70 - 80

5 - 8

45 - 65

20 - 30

9 - 14

2 - 10

* Hele plant verwyder, maar per ton graan uitgedruk

TABEL 1 : Onttrekkingsyfers (kg/ton) van hoof somer-akkerbougewasse (Bemestingshandleiding, 2019)

 

Die opname van voedingstowwe (N, P en K) deur mielies kan grafies in Figuur 2 waargeneem word. 'n Mielieplant het teen blomstadium reeds 65% N, 75% K en 50% P opgeneem (Botha, 2015). Uit hierdie figuur is dit duidelik dat mielies se tempo van K-opname vroeg in die groeiseisoen 'n piek bereik, terwyl P- en N-opname se piek saam met dié van blom en maksimumwaterbehoefte val. Dus maak dit egter sin om te sorg dat voldoende P en K met plant beskikbaar gestel word. Stikstofbemesting word egter in twee inkremente toegedien om verliese as gevolg van loging te beperk.

FIGUUR 2 : Opname van voedingstowwe deur mielies gedurende die groeiseisoen (Agtag, 2017).

 

Stikstof (N) is belangrik by die vermeerdering en verlenging van selle. Die vergroening van plante na dié toediening, dui op die rol wat stikstof by bladgroenvorming (fotosintese) speel. Stikstof word in die boustene van proteïen (aminosure) ingebou en het dus 'n direkte invloed op graankwaliteit, deurdat 'n tekort aan stikstof tot 'n laer proteïeninhoud lei.

Die topbemesting van groot hoeveelhede stikstof is te verstane as in aanmerking geneem word dat daar ongeveer 20% van die totale stikstof by week vyf en 50% by week agt reeds deur die plant opgeneem is (van Biljon, 2009).

Kalium (K) is belangrik vir die sterkte van vesels en daarom is plante onder ernstige kaliumtekorte geneig tot omval. Kalium speel ook 'n belangrike rol by die oop- en toemaak van huidmondjies en beïnvloed daarom droogte- en koueverdraagsaamheid. Kalium bevorder ook die vorming van proteïene, suikers, stysel en olies en speel 'n belangrike rol in die vervoer van stysel na die kop.

By mielies is ongeveer 18% van die totale kalium gedurende week vyf en 60% by week agt reeds deur die plant opgeneem (van Biljon, 2009).     

Toedieningstyd

Dit is belangrik om weg te spring met 'n gebalanseerde plantermengsel, asook die regte vorm van bemesting. Om aan hierdie vraag na voedingstowwe te voldoen, kan pre-plant en/of topbemesting met hoofsaaklik N, K en S toegedien word. Topbemesting word tradisioneel tussen 3 - 6 weke na opkoms toegedien. In Figuur 3 kan die swakker ry wat geen bemesting tydens planttyd ontvang het nie, duidelik waargeneem word. Dieselfde topbemesting is op alle rye toegedien.

 

FIGUUR 3 : Die effek en bydrae van 'n gebalanseerde plantermengsel (Coligny distrik, Noord-Wes).

 

Die volgende moet ook in gedagte gehou word:

  • Stikstof (N) wat vooraf toegedien word, word blootgestel aan logings gevare en die versuring van ondergronde raak 'n wesenlike probleem indien N in groot hoeveelhede toegedien word.
  • 'n Deel van die N behoort voor plant toegedien te word, indien 'n N-negatiewe periode weens baie plantreste verwag word.
  • Voorsiening moet gemaak word vir N-reaksies wanneer ureum of ammoniumbronne as topbemesting oorweeg word, weens die omskakelings wat moet plaasvind voordat alle N plantbeskikbaar is. Omgewingstoestande, soos nat gronde en lae grondtemperature, kan hier 'n beperkende faktor vir omskakeling wees.
  • Wanneer P vooraf toegedien word, moet daar aandag gegee word aan die bron van P asook N, omdat sekere antagonistiese reaksies kan plaasvind (byvoorbeeld ureum en DAP).
  • Kalium (K) as voorafbemesting is ook onderhewig aan loging, maar tot 'n mindere mate as stikstof. 'n Gedeelte van die K kan veral op sandgronde effektief as kantbemesting toegedien word.
  • Swael (S) tekorte tydens die vegetatiewe en reproduktiewe stadiums, kan opbrengste nadelig beïnvloed. Inkorporeer dus swael as deel van die bemestinsgprogram (plantmengsel en/of topbemesting).

Samevatting

Die plant se behoefte is op die einde van die dag dít wat opbrengs en kwaliteit bepaal. Daarom is dit belangrik om jou spesifieke grond te ken, sodat die grond reg gevoed word en ten einde te verseker dat daar aan die gewas se behoeftes voldoen word.

 

Verwyssings

Agtag, 2017. Afgriland. Retrieved from https://agtag.co.za/category/14/post/16010

Bemestingshandleiding, 2019. Verwydering van plantvoedsel deur gewasse. In FERTASA (pp. 155-156). Lynnwoodrif: Fertilizer Association of Southern Africa.

Botha, P, 2015. Bemesting-wanneer is hoeveel nodig. Retrieved from SA Graan: https://sagrainmag.co.za/2015/07/19/bemesting-wanneer-is-hoeveel-nodig/

Labuschange, A, & Van Zyl, K, 2015. Bemesting van mielies. Retrieved from Graan SA: https://www.grainsa.co.za/bemesting-van-mielies

van Biljon, J, 2019. Stikstof en kalium. Retrieved from Senwes: http://www2.senwes.co.za/Files/main_Scenario/archive_articles/2009/Desember/Artikel4/Stikstofenkalium.htm

 

 

I am an accomplished and knowledgeable BSc Agriculture (Soil Science and Agronomy) Graduate. Attained a degree and honours at the University of the Free State in 2019. I currently work as a Soil Scientist at NWK Limited. I am comfortable working in deadline-driven environments as part of a team or on an individual basis. I possess the ability to take initiative and manage time effectively. My diverse set of skills also covers excellent planning and organising. I consider myself a dedicated and detail orientated individual, who always strives to learn more and to deliver more than expected. I am known for building strong working relationships and I am committed to be a confident and respected member in my environment. I have a farming background and know how things work. I love working with nature and outside in the field. I also have knowledge on some of the difficulties that can be experienced in the agricultural sector.

 

 

 

 


Newsletter Subscribe