Katoenproduksie aansienlik hoër in Suid Afrika -

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Die vierde skatting vir die 2018/19 produksiejaar dui op ‘n katoenoes van 235 837 bale vesel vir Suid-Afrika, ‘n styging van 25% teenoor die vorige seisoen en min of meer dieselfde as die vorige maand se skatting.

Droëland- en besproeiingshektare toon toenames van onderskeidelik 33% en 21% teenoor die vorige seisoen, hoofsaaklik weens die meer gunstige pryse van katoen teenoor mededingende gewasse asook die hernieude belangstelling in katoenproduksie.

Wêreld-katoenproduksie

Die aanplant van katoen in die Noordelike Halfrond, wat vir 90% van globale katoenproduksie verantwoordelik is, is tans vol aan die gang. Die Internasionale Katoenadvieskomitee (ICAC) verwag dat wêreld-katoenhektare in 2019/20 met ongeveer 3% sal styg in vegelyking met 2018/19. Die wêreldproduksie van katoen sal na verwagting met sowat 5% tot 2,7 miljoen styg, wat dit die tweede grootste oes sal maak wat nog ooit aangeteken is.

In Indië, wat tans die wêreld se grootste katoenproduserende land is, sal katoenproduksie na verwagting met 5% tot 6,1 miljoen ton toeneem, terwyl katoenproduksie in China, die tweede grootste katoenproduserende land in die wêreld, na verwagting met sowat 1% sal styg.

Die ICAC projekteer dat katoenproduksie in die VSA en Pakistan, die derde en vierde grootste produsente in die wêreld, in 2029/20 met onderskeidelik 12% en 18% sal toeneem. Gesamentlik produseer hierdie vier lande ongeveer twee derdes van globale katoen.

Vir 2019/20 verwag die ICAC dat wêreld-katoenverbruik sal voortgaan om stadig met sowat 2% te groei tot by 'n rekordvlak van 27,1 miljoen ton. Hoewel katoenverbruik stabiel behoort te bly op 8,5 miljoen ton in China, die grootste verbruiker van katoen in die wêreld, word toenames van 3% in katoenverbruik in beide Indië en Pakistan verwag, wat die wêreld se tweede en derde grootste katoenverbruikerslande is.

Die VSA sal steeds die wêreld se grootste katoenuitvoerder wees met 'n geprojekteerde uitvoersyfer van 3,3 miljoen ton vir 2018/19. Volgens die ICAC het China gedurende die 2017/18 seisoen sowat 560 000 ton VSA-katoen ingevoer met 'n verwagte 250 000 ton VSA-katoen wat in die huidige seisoen (2018/19) na China uitgevoer sal word. Totdat die handelsgeskil opgelos word, sal VSA-katoen wat na China uitgevoer word, onderhewig bly aan die addisionele 25% tarief wat in Julie 2018 ingestel is.

Katoenuitvoere van die ander groot katoenuitvoerlande na China het begin toeneem, met Australië wat tot dusver dié seisoen reeds sowat 440 000 ton katoen na China uitgevoer het. Dit is heelwat meer as die 280 000 ton wat in 2017/18 na China uitgevoer is. Brasilië het tot dusver hierdie seisoen sowat 380 000 ton katoen na China uitgevoer, ook heelwat meer as die 82 000 ton wat in 2017/18 uitgevoer is. Katoenuitvoere na China het in 2018/19 in byna al die ander uitvoerlande, waaronder Indië, Griekeland en Wes-Afrika-lande toegeneem.

Hoewel die ICAC verwag dat wêreld-katoenvoorrade vir 2019/20 soos vir die vorige drie seisoene min of meer onveranderd op 18,5 miljoen ton sal bly, het die wêreld-katoenvoorrade buite China oor dié tydperk geleidelik toegeneem van 8,1 miljoen ton in 2016/17 tot 'n verwagte 10,3 miljoen ton in 2019/20.