Nuwe Kompetisie vir Aspirant Jong Landbouskrywers

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Hollard Insure, in samewerking met Farmingportal.co.za en Agri News Net, nooi inskrywings uit vir die Jong Landbouskrywerskompetisie. Hierdie is ’n geleentheid vir jong skrywers om gepubliseer te word en ook lekker prysgeld los te slaan. 

Die kompetisie is oop vir enige skrywer jonger as 28. Leerders, studente en jong werkendes word aangemoedig om deel te neem. Deelnemers mag nie gepubliseerde joernaliste wees nie.

Artikels tussen 500 en 750 woorde in lengte, oor enige landbou-onderwerp, mag ingeskryf word. Die artikels mag in die skrywer se taal van keuse geskryf word, maar moet in Engels ingedien word (indien die artikel in Engels vertaal word, moet die oorspronklike teks die inskrywing vergesel). Die inskrywing moet die oorspronklike werk van die deelnemer wees.

Die top 10 inskrywings sal elk ’n kontantprys van R1 000 ontvang. Die top drie inskrywings sal ’n verdere R5 000, R3 000 en R2 000 onderskeidelik ontvang vir eerste, tweede en derde plek. Die kompetisie sluit einde Februarie 2021, waarna die wenners aangekondig sal word. Pryse sal tydens ’n geleentheid op Hollard se pragtige Villa Arcadia, in Parktown, oorhandig word.

Andries Wiese, nasionale besigheidsontwikkelingsbestuurder vir Hollard Insure, sê: “Die landbousektor is ’n belangrike deel van ons land se ekonomie. Jong mense het ook nodig om hulle stemme te laat hoor rondom landbou.

“’n Beter toekoms vir al ons land se inwoners is kern tot Hollard se wese en hierdie is vir ons ’n gulde geleentheid om in vennootskap met Farmingportal.co.za a en Agri News Net ook aan daardie jong stemme ’n platform te gee. Ons glo sterk daaraan om nuwe talent te ontwikkel en te laat groei, en ons sien uit na die inskrywings.

“Hierdie is ’n opwindende inisiatief deur Agri News Net, en ons is opgewonde en trots om deel daarvan te wees!”

Inskrywings kan gedoen word op die Farmingportal.co.za-webwerf. Vir meer inligting, en bepalings en voorwaardes, DRUK gerus op die volgende skakel

DRUK HIER OM JOU ARTIKEL TE PLAAS