Agrilogics
VOEDSELSEKERHEID  - dis Suid Afrika se boere in 2022

VOEDSELSEKERHEID - dis Suid Afrika se boere in 2022

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Ons is in die begin van 2022- En die grootse gedeelte van Suid Afrika is groen en nat- Damme loop oor en riviere is in vloed. Met soveel dankbaarheid het ons boere hierdie Kersfees en Nuwe Jaar deurgebring.

Goeie graanoeste weens verwagte goeie reënval, sowel as ‘n verwagte hoë vraag na vee is van die voorspellings vir 2022.   Weerkundiges verwag dat reënval, wat soortgelyk is aan dié van 2021, in 2022 sal voorkom. Dit sal dan daartoe lei dat graanprodusente weer eens goeie oeste produseer. Daarmee saam word verwag dat weiding weens die reënval in goeie toestande sal wees, wat volgens Lombard daartoe gaan lei dat die vraag na vee hoog sal bly. Indien dit die geval sal wees, sal die mark vir teeldiere ook sterk bly.  Maar, soos wat daar verwag word dat Suid-Afrika goeie reën gaan ervaar, word daar ook verwag dat Amerika nie so gelukkig sal wees nie. Amerika is ‘n groot rolspeler in die produksie van mielies en affekteer ook die wêreldmieliepryse.

Vooruitsigte toon dat rentekoerse in die nuwe jaar, en in die jare vorentoe, aanhou sal verhoog. Skuld gaan duurder word. Produksiekrediet gaan basies duurder word om jou skuld terug te betaal. Al Mawashi gaan meer gereeld skape wil uitvoer, wat  iets goed vir Suid-Afrikaanse skaapprodusente is. Saam met goeie reën is daar ook die risiko van dieresiektes, en die Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) sukkel tans om entstowwe vir dieresiektes soos die Afrika Perdesiekte te produseer.  

Ons weet ook nie wat die water en versuipskade op oeste gaan wees wat aangeplant is nie. Die Noord en Wes Vrystaat het geweldige versuip en waterskade asook dele van Mpumalanga. Hael het ook verwoesting gesaai.    

Nadat Covid-19 ons die afgelope twee jaar geteister het, wens Suid-Afrikaners vir meer werksgeleenthede, beter dienslewering, laer petrolpryse, en natuurlik dat die virus eens en vir altyd sy tassies pak. Maar volgens kenners lyk die vooruitsigte vir 2022 egter nie so rooskleurig soos wat ons hoop nie.

Plaaslike ekonomie

Kenners meen ons gaan stygende voedselpryse, ’n wisselvallige rand/US dollarwisselkoers en moontlik nóg brandstofprysverhogings sien.

Die Covid-19-pandemie en inperkings het ekonomiese aktiwiteit in 2020 skerp laat inkrimp, maar in 2021 was ons terug by die werk en in die winkels wat ekonomiese groei laat terugkeer het. Prof. Waldo Krugell, ’n ekonoom verbonde aan die Noordwes-Universiteit, sê dit lyk of hierdie herstelproses die ekonomie in 2022 terug sal hê op die vlak van Bruto Binnelandse Produk (BBP) wat ons voor die pandemie gehad het.

Waldo sê egter die vooruitsigte vir groei word negatief geraak deur stygende inflasie en rentekoerse. “Dit lyk of die ontwrigting van voorsieningskettings en stygende vervoerkoste nog ’n tyd lank met ons gaan wees. Regoor die wêreld plaas dit druk op pryse, en sentrale banke het begin om rentekoerse te verhoog. In so ’n omgewing is die wisselkoers van die rand meer wisselvallig, en dit het weer ’n impak op die pryse van ingevoerde goedere en brandstofpryse. Dit gaan ’n verdere negatiewe impak hê op verbruikers se besteding en ondernemings se investering. Binne hierdie konteks word daar ook meer arbeidsonrus en stakings verwag. Wanneer lewenskoste styg, maar salarisse onveranderd bly, spoel daardie druk oor in salarisonderhandelinge.”

Waldo sê voorts die probleme by Eskom is baie groter as wat almal dink en daar is nie vinnige oplossings nie.“Die kragstasies is oud en vir lank wanbestuur. Hulle gaan aanhou breek en beurtkrag veroorsaak. Elektrisiteitspryse gaan aanhou styg.”

Kerry Morris, hoofuitvoerende beampte by die Tower Group, noem dat werkloosheid óók ’n invloed op die ekonomie het, aangesien ’n hoë werkloosheidsyfer beteken dat minder mense inkomstebelasting betaal, terwyl ’n verlaagde BTW-inkomste vir die regering verwag kan word omdat huishoudings minder kan spandeer as in die verlede.

Brandstof

Op 1 Desember 2021 het die brandstofprys vir die eerste keer die R20/ liter-kerf verbygesteek. Dit beteken dat die brandstofprys sedert die begin van 2021 met sowat 40% gestyg het. Layton Beard, woordvoerder vir die Automobile Association (AA), voorspel dat ons nie noemenswaardige verlagings in 2022 gaan sien nie. Die begrotingsrede sal ook ’n invloed op die prys van brandstof hê. Indien buitelandse beleggers oorreed kan word om in die land te belê en die burokratiese rompslomp van beleggings verminder word, sal dit ’n positiewe impak op die wisselkoers hê en weer ’n invloed op die brandstofprys.

“Die punt is die brandstofprys beïnvloed nie net mense met karre of motorfietse nie. Dit beïnvloed elke liewe Suid-Afrikaner. Of jy nou ’n kar het of nie, of jy nou van openbare vervoer gebruik maak of nie, dit gaan jou raak. Voedselpryse styg, openbare vervoer raak duurder en tolgeld op nasionale paaie styg. Ons het nodig om ons afhanklikheid van padvervoer te verminder en weer na spoorvervoer  te kyk,”sê hy.

Ons landbouers

As daar een geweldige groot dankbaarheid is wat ons in Suid-Afrika moet hê en nooit as vanselfsprekend moet aanvaar nie is dit die feit dat daar vir ons nog altyd, vanweë die besondere boere wat ons het, voedselsekerheid is. 

Ten spyte van misdaad, plaasmoorde, droogtes, ekonomiese uitdagings, natuurrampe en politieke druk was daar nog altyd genoeg kos. Deur organisasies en deur projekte was daar nog altyd in Suid-Afrika, selfs na 27jaar korrupte regerings altyd kos om te deel.  Sekere dele van ons land het hulle sewe maer jare beleef, ander weer oorskot, maar die feit dat ons nog altyd genoeg gehad het tussen ons streke en verskillende dele van die land sê iets van die gehalte van ons landbouers, die vermoë wat hulle het en die dankbaarheid wat ons kan hê.  ’n Mens is byna te bang om jou ’n situasie in te dink waar daar nie genoeg kos in ’n land is nie, soos wat in baie plekke in die wêreld gebeur. 

Toe Kwa-Zulu Natal deur ’n besondere onlustekrisis gaan, toe kon kos geskuif word vanaf verskillende dele in Suid-Afrika.  Toe Covid19 ’n harde impak gehad het op baie mense se werksomstandighede, verkoopvermoë en oorlewing, was daar genoeg om te verdeel.  Behalwe dit wat verwerk was en verdeel kon word het daar ook vragte en vragte kos, groentes en vrugte direk van die plase na gemeenskappe gegaan. 

Met die lieflike reën tans in groot dele van die land is ’n mens dankbaar dat daar vir boere in baie droe omgewings ook weer hoop gekom het om so te produseer dat daar oorvloed is. 

Die belangrike wetsontwerp oor grondonteining sonder vergoeding is in die parlement afgewys  tot groot dankbaarheid. 

Ons boere wil in vryheid en sonder hindernis kos voorsien en aanhou kos voorsien.  Suid-Afrika staan voor baie uitdagings. 

Covid19 se impak is nog nie naastenby verby nie, en die regering wil nog steeds die massas beheer. Dis tyd dat ons begin opstaan teen hierdie staatsamptenare wat ons mense wil beheer met belastingelde. Die pandemie het ons gedwing om vir ‘n wyle as ‘n nasie saam te staan teen die virus. Dit was egter van korte duur en sekere gebeure het die werklikhede van ons samewlewing weer na die oppervlak laat kom, soos die rassisme en radikalisme versterk deur fascistiese uitsprake, skreiende korrupsie, toenemende plaasmoorde, die totale verval van die platteland en die regering se totale onvermoë en geploeter met alles wat hulle probeer doen.

Die natuur is nie in die hande van ’n mens nie, onluste en die impak daarvan het nog nie deurgewerk nie en politiek hou die boere onnodig besig. 

Intussen produseer hulle, word geploeg, geplant, gesaai, geoes.  En al kom daar uitdagings kan ons sê daar was nog altyd genoeg kos om planne mee te maak.  Daarom verdien ons boere spesiale vermelding, verdien hulle ons erkenning en ons respek. 

Aan die begin van hierdie jaar kan ons terugkyk en inderdaad sien daar was baie uitdagings en daar was baie seëninge,  wat ons nie moet miskyk nie, daar was ten spyte van baie dinge genoeg kos. 

Genoeg om te koop, genoeg om te verdeel, genoeg om planne mee te maak. Dis een ding om te kyk na duisende kinders wat nie kos het nie, en bejaardes, gesinne en individue en planne te probeer maak. 

Ons het die voorreg gehad om te kon aanhou boer. Maar ons is ook herinner dat ons almal die aarde deel, dieselfde lug inasem, en dat ons dit moet koester, wardeer, en bewaar. Ons  het herontdek hoe broos ons eintlik is, hoe kosbaar die lewe is, en ons is herinner om nie die lewe as vanselfsprekend te aanvaar nie.  Dit het ons ook die geleentheid gegee om te fokus op dit wat mooi en goed is en idees hieruit te ontgin vir ‘n beter toekoms

Gedurende hierdie tyd het die mensdom en poltici se oë ook oopgegaan oor die belangrikheid van die boer en van landbou in Suid-Afrika.

Daarom eer ons die boere van Suid-Afrika vir voedselsekerheid. - Suid Afrika se boere is van die beste in die wereld. 

Johann Pretorius 

CRA Group  


Agrilogics