MONETÊRE BELEID IS ‘N TOTALE DWALING- Fanie Brink

User Rating: 5 / 5

Star ActiveStar ActiveStar ActiveStar ActiveStar Active
 

Die algemene aanvaarding dat die Reserwebank en al die ander sentrale banke in die wêreld se rentekoersbeleid inflasie kan beheer, die wisselkoers kan beskerm en ekonomiese groei kan bevorder deur pryse te stabiliseer en die wisselkoers te beskerm, is die grootste enkele dwaling in die totale ekonomiese wetenskap” sê Fanie Brink, ‘n onafhanklike landbou-ekonoom. 

Brink het gereageer op die volgende stellings wat die minister van Finansies, Tito Mboweni, in sy Mediumtermyn Begrotingsraamwerk (MTBR) gemaak het wat hy Woensdag aan die Parlement voorgelê oor die inflasiekoers en die mandaat van die Reserwebank:

“… any growth plan must be built on two macroeconomic preconditions: a sustainable fiscal position and low and stable inflation”

en die mandaat van die Reserwebank wat volgens hom in Seksie 224 (2) van die Grondwet as volg vervat is:

“The South African Reserve Bank, in pursuit of its primary object, must perform its functions independently and without fear, favour or prejudice, but there must be regular consultation between the Bank and the Cabinet member responsible for national financial matters.”

Dit moet egter daarop gewys word dat die bogenoemde mandaat volgens die minister van Finansies nie korrek is nie omdat die primêre doelwit van die
Reserwebank volgens die Seksie 224 (1) van die Grondwet1) “die beskerming van die waarde van die wisselkoers in belang van gebalanseerde en volhoubare ekonomiese groei” is en sy oorspronklike mandaat volgens die Reserwebankwet2) om “prysstabiliteit te bereik en in stand te hou in belang van gebalanseerde en volhoubare ekonomiese groei,” wat nogsteeds deur die Bank as sy primêre funksie aanvaar en toegepas word.

“Monetêre beleid is ‘n irrelevante en onbetekenisvolle beleid en daar bestaan absoluut geen bewyse vir die aansprake wat deur al die sentrale banke gemaak word dat dit die inflasiekoers kan in toom kan hou, die wisselkoers kan beskerm of ekonomiese groei kan stimuleer en skep nie.”

Prysvlakke word in die ekonomie bepaal deur al die faktore wat ‘n invloed op die vraag en aanbod van goedere en dienste het en nie deur rentekoerse nie. (Ekonomie 101, hoofstuk 1, bladsy 1). Die werklikheid is egter dat verbruikers nie hulle spandering verlaag omdat rentekoerse styg nie, maar as gevolg van die stygings in byvoorbeeld brandstof-, en voedselpryse, asook elektrisiteitstariewe wat inflasie veroorsaak. Rentekoste maak in elk geval slegs ongeveer 3% van ‘n huishouding se totale uitgawes uit en kan daarom nie ‘n wesentlike invloed op verbruiksbesteding uitoefen nie.

Die Bank kan nog minder die wisselkoers beskerm omdat die eksterne waarde van die Rand deur baie ander faktore bepaal word wat ‘n invloed op die vraag en aanbod van die geldeenheid uitoefenl, soos onder andere, ekonomiese groei, werkloosheid, die saldo op die lopende rekening van die betalingsbalans, wêreldmarkgebeure op die ekonomiese vooruitsigte vir die opkomende markte,  politieke verwikkelinge en uitsprake, die land se kredietstatus, asook die invloed van al die faktore wat weer, byvoorbeeld, ‘n invloed op die Amerikaanse dollar en dus die $/R-wisselkoers tot gevolg het.

Die invloed van die sentrale banke se rentekoersbeleid op ekonomiese groei is in werklikheid weglaatbaar klein omdat groei in die meeste lande in die wêreld deur die winsmotief binne ‘n kapitalistiese ekonomiese stelsel gedryf en geskep word, selfs vandag in lande soos Rusland en Sjina.

Die winsgewendheid van die verskillende bedrywe in die drie sektore van die ekonomie word in wese gedryf en geskep deur, eerstens, die prysveranderings van al die insette wat in die ekonomie gebruik word en die prysveranderings van al die uitsette wat daarmee geproduseer, vervaardig of as dienste gelewer word, met ander woorde, teen die pryse wat deur vraag en aanbod bepaal word.

Tweedens, deur die doeltreffendheid waarmee die insette in uitsette tydens hierdie prosesse omskep word soos gemeet word deur die hoeveelheid insette wat benodig word om ‘n eenheid van ‘n uitset te kan lewer. Daarom is volgehoue navorsing oor nuwe tegnologiese ontwikkeling so belangrik omdat die toepassing daarvan die doeltreffendheid van hierdie prosesse kan verhoog sodat meer uitsette met dieselfde hoeveelheid insette of dieselfde hoeveelheid uitsette met minder insette gelewer kan word.

In hierdie verband speel rentekoste ‘n onbeduidend rol omdat dit slegs ongeveer 3% van die totale bedryfskoste van die meeste besigheidsondernemings beloop.

Eenvoudige statistiese ontledings bewys baie duidelik dat die veranderings in rentekoerse geensins die veranderings in die inflasie- en wisselkoers, of ekonomiese groei kan verklaar of verduidelik nie. Daar word heeltemal te veel van die Reserwebank en die ander sentrale bank in die wereld se mandaat en primêre doelwit verwag.

Dit is nie die staat se rol om ekonomiese groei te skep nie, maar om ‘n beleggingsvriendelike omgewing te skep wat bevorderlik vir ekonomiese groei sal wees. Die produsente, vervaardigers en diensteverskaffers aan die aanbodkant en die verbruikers aan die vraagkant is in werklikheid die grootste en belangrikste rolspelers in die ekonomie as die skeppers van ekonomiese groei, welvaart en vooruitgang in die wêreld en nie die voorgeskrewe rentekoersbeleid van sentrale banke nie.

Die sentrale banke probeer om beheer oor die vraag in die ekonomie uit te oefen, terwyl groot veranderings aan die aanbodkant van die ekonomie totaal ignoreer wat byvoorbeeld deur droogtes en beperkings op ru-olieproduksie veroorsaak kan word, selfs ‘n baie groter invloed op pryse kan hê, en dit ook nog aan die verbruikers toedig. Daarom is die banke in elk geval geensins daartoe instaat om pryse te stabiliseer nie, wat opsigself ‘n totale illusie is.

Dit is daarom totaal onverstaanbaar waarom die sentrale banke en feilik al die ekonome in die wêreld vandag vas bly glo dat monetêre beleid hoegenaamd so ‘n belangrike rol in die ekonomie speel as wat hulle daaraan toedig en waarom hulle die verbruikers van goedere en dienste aanhou vir prysstygings wil straf waarvoor hulle nie verantwoordelik is nie.
_________________________
1) Constitution of the Republic of South Africa (No. 108 of 1996) – Sub Section 224(1) page
https://www.gov.za/sites/www.gov.za/files/images/a108-96.pdf
2) Reserve Bank Act (1989)
https://www.resbank.co.za/AboutUs/Mandate/Pages/Mandate-Home.aspx

ooooooOoooooo

Bothaville
26 Oktober 2018
Navrae: 082 573 5661


Newsletter Subscribe