ANC SE TRANSFORMASIE AGENDA EN DIE WEG VORENTOE - Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Die prys van die ANC se beleidsomgewing het te duur geword vir al Suid-Afrika se inwoners.

  Jaarliks styg werkloosheid en die gepaardgaande armoede en is hul oplossing net om meer sosiale toelae uit te deel.  Daar word tans reeds aan 27,8 miljoen mense sosiale toelae uitgedeel met ongeveer 6 miljoen mense wat belasting betaal. Die toekenning van hierdie toelae kan nie net gestaak word nie, want dan is daar chaos.   Logies moet die volhoubaarheid van so model ernstig bevraagteken word.  Die enigste volhoubare oplossing is dat die ekonomie moet groei, maar intussen stroom kapitaal teen ‘n ongekende koers uit die land uit agv ‘n gebrek aan vertroue in dit wat hier aan die gang is.  Die regte dinge wat nodig is om wel groei te bereik word juis nek omgedraai deur die beleid van die ANC.  ‘n Bose kringloop inderdaad. 

Daagliks is ons almal besig om die resultate of dan die gevolge van ‘n swak beleidsomgewing te probeer “bestuur”.  Daar word gewis nie voldoende aandag gegee aan die oorsake van al hierdie negatiewe gevolge nie.  Wat is dan hierdie oorsake wat veroorsaak dat ons land afstuur op ‘n ramp?

Die een aspek wat duidelikheid oor gekry moet word is die model wat die ANC nastreef.  Suid-Afrika is tans gefundeer op ‘n ekonomiese model wat gebaseer is op die beginsel van privaat besitreg en ‘n mark gerigte ekonomie.  Dit is inderdaad die model wat met ook sy probleme wêreldwyd bewys het dat dit welvaart kan skep.  Natuurlik bring dit ook probleme, maar diegene wat die verantwoordelikheid wat die lewe van elk vereis nakom, het die geleentheid om in die model sukses te kan bereik.  Dit begin by die ondernemers wat die risiko neem om besigheid te doen wat dan die ander drie produksiefaktore naamlik kapitaal, grondstowwe en arbeid waar laasgenoemde met verantwoordelikheid hul taak behoort te verrig op so wyse dat hul onmisbaar word, saamvoeg om ‘n winsgewende besigheid daar te stel.  Arbeid in hierdie dae van meganisasie en tegnologiese ontwikkeling staan gevaar om vervang te word indien hulle bydrae as nie-konstruktief en afbrekend in die besigheid ervaar word.  Die meganisme wat deurentyd hierdie produksieproses evalueer is die markkragte.  Dit is inderdaad die enigste kriteria wat sukses al dan nie sal bepaal.    Daarteenoor sit ons vandag met ‘n verklaarde beleidsrigting van die ANC (en ook sy ander partye in die drie-party alliansie naamlik Cosatu en die SAKP) om sosialisme en kommunisme aldus die voormalige Sowjet-unie se model te vestig.   ‘n Model wat wêreld wyd nog net armoede en hartseer veroorsaak het.  TLU SA het op hul versoek in Georgië wat deel uitgemaak het van die voormalige Sowjet-unie ‘n bydrae gaan maak om ‘n mark gerigte ekonomie vir veral landbou te help vestig.  Die prys wat daardie land betaal het om 70 jaar gebuk te gaan onder dit wat die ANC nou hier wil vestig, was onmeetbaar groot.  Twee groot aspekte het duidelik opgeval naamlik armoede, maar ook die “denke van die mense is vermoor”  Ondernemerskap is vernietig.  In hulle geval het jonger mense in die laaste aantal jare dinamies opgestaan en is die herstelpad verstommend.

Die ANC se vernietigende strewe word verpak in hulle sogenaamde transformasie agenda.  Dit is betreurenswaardig dat begrippe wat in ons idioom positief is,  misbruik word tot ‘n verdoemende toekoms vir die land en sy inwoners.  Wat is die definisie van transformasie soos wat die ANC dit sien?  Vir geruime tyd reeds bly dit vir ons ‘n onbeantwoorde vraag wat gestel is aan die proses wat tans besig is met die daarstel ‘n volgende landbouplan naamlik Agricultural Agro Master Plan (AAMP).  TLU SA se siening is dat gesprek rondom transformasie met die volgende benadering eerder gevoer moet word:  “Transformasie is ‘n meetbare positiewe verandering in die stelsel, natuur en van ‘n spesifieke ontwikkelingsgebied tot voordeel van alle partye sonder die benadeling van enige rolspeler of aspek nie.”    Dit moet dus ‘n proses wees om dinge te verbeter in almal se belang en is dit ongelukkig nie wat ervaar word met dit wat die ANC daarstel nie.

Die ANC is inderdaad reeds besig in die praktyk met ‘n omskakeling na sosialisme gegewe die onrealistiese uitbreiding van die getal mense wat van sosiale toelae afhanklik is.  Dit is nie volhoubaar nie en gaan die ANC iewers uit voldoende belastingbetalers hardloop met die noodwendig katastrofiese gevolge.

Binne hierdie transformasie-agenda verpak hulle aspekte soos SEB, gelyke indiensneming, kader ontplooiing, grondhervorming, onteiening sonder vergoeding, kurrikulum van die skole, ens.  met hul doel as oogmerk naamlik om die samelewingsorde te neem na hulle strewe.  Hulle verwag juis van die ekonomies aktiewe rolspelers om hierdie transformasie agenda vir hulle tot uitvoer te bring.  Wanneer hul doel bereik is naamlik gesentraliseerde sosialisme en kommunisme is die vraag wat elk wat tans lustig saamwerk om hul “transformasie” agenda te ondersteun sal moet antwoord naamlik waar laat dit ons?  Die ANC se transformasie-agenda  se uitkoms se voorbeelde is daar om te sien.  Elkeen se kind se toekoms word inderdaad hul ontneem indien hierdie beleid beslag sal kry.

Landbou het sy eie unieke realiteite waar ervaar word dat ons ‘n afwesige of onvriendelike regering het.  Buiten diskriminerende praktyke waar landbou anders hanteer word as ander sektore in die ekonomie soos bv. die vestiging van verblyfregte op die produksiefaktor -  grond, ervaar ons as prysnemers in die insetkant sowel as die markomgewing, ‘n verskeidenheid van heffings/uitgawes soos grondbelasting, minimum lone, waterheffings, brandstofstygings in planttyd ens.  Die insetkoste raak buite verhouding duur en vele boere moet begin keuses maak oor die kommoditeit waarmee hul nog winsgewend mee kan boer.  Veiligheidstoestande op plase is buite beheer met nie net die bedreiging van aanvalle en moorde nie, maar ook die plundering van hul produkte, insetmiddele en  toerusting en indien hulle optree teen die misdadigers word daar vinnig vals klagtes teen die boer gelê met gewoonlik arrestasies en ‘n stryd om borg te kry. 

Die ANC het oor tyd bewys dat hulle nie ‘n betroubare vennoot is nie.  Met hul kaderontplooiing wat veroorsaak dat kundigheid vernietig word en hul  korrupsiekultuur sal enige regdenkende mens baie mooi besin of dit enigsins sin maak om in enige vennootskap met die regering te wil gaan.

Die kern belangrike vraag is inderdaad wat kan en moet daaraan gedoen word?    Dit is dalk eerstens belangrik dat ons elkeen eerlik raak oor wat het ons mee te doen.  U as media vriende het ‘n groot taak om verslag te doen oor wat plaasvind, maar het ook ‘n reuse taak van beïnvloeding.  Met watter stel waardes wil ons graag sien ons land ontwikkel?  Is dit moontlik om onder die ANC se beskouing enigsins ‘n toekoms vir ons kinders te kan skep?

TLU SA bely onbeskaamd ons geloof in God Drie-enig soos geopenbaar in Sy Woord, die Bybel.  Dit is die waardes wat daaruit verkry word wat nagestreef word.  Dit is juis daaroor dat daar groot kommer is waarheen ons op pad is.  By geleentheid meld Dr Blade Nzimandi aan Sadou (swart onderwysers vakbond)  tydens hul kongres dat hierdie kurrikulum ontwerp is om vir die jeug sosialisme te leer en dat dit gebruik moet word. 

Die ANC hou in die praktyk mense gevange met sosiale toelaes en die beskikbaarstelling van HOP huise, wat inderdaad staatsgeld is, om vir hulle as politieke party te stem.  Vir meer as 10 jaar reeds vra ons bepaalde vrae aan die ANC soos bv hoekom hulle nie aan die bewoners van HOP huise nie titelaktes gee nie – tans sit al daardie mense op dooie kapitaal.  Deur net die titelaktes vir hulle te gee kan die huise dadelik dien as werkskapitaal in die vorm van ‘n kollateraal. 

Indien die regte beleidsomgewing nie gevestig word wat die nodige vertroue inboesem wat die regte voorvereistes wat benodig word om by ekonomiese groei uit te kom, nie positief sal stimuleer nie sal Suid-Afrika op die afdraande glybaan bly waarop die ANC die land geprojekteer het.  Die ANC moet dalk gedruk word om eerlik aan die wêreld en al die beleggers te sê of hulle wil volhard op die pad van armoede vir almal deur aan te hou op hulle gebaande weg van sosialisme en kommunisme soos vervat in hulle “National Democratic Revolution” (NDR).  Die onsekerheid wat tans geskep word is net te groot om enigsins by voldoende ekonomiese groei te kan uitkom.  Met standpunte soos onteiening sonder vergoeding wat hul poog om grondwetlik te maak kan nie verstaan word dat hulle nog enigsins die woord groei gebruik nie.  ‘n Groter ontmoediging vir beleggings gegewe dat die grondwet reeds bepaal dat bates word nie tot grond alleen beperk nie, kan seker nie gegee word nie.  Daar word baie duidelik in die onderstaande tabel uiteengesit wat word benodig om ekonomiese groei te verkry. TLU  SA kies telkens in ons kommentaar oor wat gaan die impak wees op ekonomiese groei wanneer ons insette gee.  Ons versoek aan alle rolspelers is om telkens ‘n saak se impak op die langtermyn te beskou gemeet in die lig van waarheen die ANC verklaar hulle op pad is. 

TLU SA kies om te bou vir die toekoms.  Ons is dit aan ons nageslag verskuldig, inderdaad aan al die inwoners van Suid-Afrika se toekoms.  Voedsel beskikbaarheid bly die kern van ‘n land se werking.  Daarsonder sal die ekonomiese ratte tot stilstand knars.   Met ‘n selferkende mislukkingsyfer van oor die 90% met hul grondoordrag prosesse waar landbougrond uit produksie gaan besef mens dat die ANC se inmenging in die ekonomiese prosesse gewis ‘n vraagteken oor voedsekerheid daarstel.

Ons land het soveel potensiaal, maar dan moet daar gewerk word met die regte beleidsomgewing wat allermins dit is wat die ANC opdis.   Suid-Afrika se inwoners sal moet leer dat mens kan kry indien daar gewerk word daarvoor.  Dit is dalk ‘n prioriteit om mense bewus te maak dat daar ‘n beter toekoms geskep kan word sonder die ANC se beleid.  Ons land het ekonomiese groei nodig en behoort elke uitspraak, standpunt, beleidsrigting of wetgewing getoets te word oor wat gaan die impak daarop wees.  Ongelukkig is ons vasgevang in ‘n styl waar groei iets is wat aangekondig word, maar waar mens daarna al die verkeerde dinge doen wat dit juis nie gaan teweegbring nie.

Hoe volhoubaar die huidige bestel is bly ‘n ope vraag.  Die vraag kom baie na vore of daar nie eerder na ‘n multi-kulturele federalisme gekyk moet word waarbinne elke bevolkingsgroep na eie sake kan omsien sonder dat ons kultureel ingedwing word in ‘n bestel wat noodwendig op konflik gaan afstuur.  Hieroor kan baie gesê word en behoort die gesprek hieroor ook gedebatteer te word. 

Ekonomie is gelyk aan 

Styging in PRODUKTIWITEIT

Netto toevoeging en verbetering van PRODUKSIEFAKTORE     

·         Wins

·         Vertroue

·         Privaat besitreg

·         Opgeleide arbeiders

·         Tegnologie

·         Lae belastings

·         Kompetisie

·         Suiwer fiskale – en monetêre beleid

·         Gees van spaar

·         Gemotiveerde arbeiders

·         Investering

·         Internasionale kredietwaardigheid

·         Infrastruktuur

·         Lae rente

·         Mark gerigte ekonomie