Vititec proe nuutste wyndruifklone- Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Vititec, ’n toonaangewende verskaffer van hoë gehalte wingerdplantmateriaal aan die Suid-Afrikaanse wynbedryf, het op 20 November ’n wynproe aangebied van die nuutste beskikbare wyndruifklone wat die span op klein skaal verbou het.

Meningsvormers in die wynbedryf, wynmakers, produsente en geselekteerde media het die proe bygewoon, waartydens 30 verskillende wyndruifklone beoordeel is – van alternatiewe variasies van bekende kultivars soos Sauvignon Blanc en Cabernet Sauvignon tot relatief nuwe kultivars soos Grachen, Arinarnoa en Assyrtiko.

“Die proe en beoordeling van hierdie wyne is die laaste en belangrikste stap in die kloonseleksie- en evalueringsproses,” sê Charles Visser, Vititec-wingerdboukundige. “Die terugvoer van die proeërs gee vir ons ’n goeie aanduiding van gehalte en verbruikersvoorkeur. Indien die wyn hierdie vereistes nakom, vermeerder ons daardie spesifieke kultivars en klone en versprei dit kommersieel.”

Vititec maak elke jaar tussen 50 en 60 eksperimentele wyne van die nuutste wyndruifklone en kultivars, wat oor ’n tydperk van vyf tot sewe jaar ingevoer en verbou word. Klone word van Frankryk, Italië en Griekeland ingevoer, van skadelike virusse gereinig indien nodig en in Vititec se kernplanteenheid in die Paarl vermeerder, waarna dit in grondvesblokke in Stellenbosch, Piketberg, Graafwater en Clanwilliam gevestig word.

“Hierdie persele word spesifiek geselekteer om van kommersiële plase geïsoleer te wees en sodoende die risiko van virusinfeksie te verhoed,” sê Charles.

Edmund Lakey, tegniese beampte by die Universiteit van Stellenbosch se Departement Wingerd- en Wynkunde, maak die kloonwyne op klein skaal (sowat 20kg druiwe van elke kultivar) van druiwe wat van hierdie vermeerderingsblokke afkomstig is.

Volgens Charles is drie kriteria gedurende die Vititec-kloneproe belangrik, naamlik die spesifieke karakter van die wyn (bessie, kersie, pruim, droëvrugte, ens.), die intensiteit van die karakter (van redelik onwaarneembaar na prominent) en die gehalte van die wyn.

“Ons sukkel met lae suur. As ons een kloon kan vestig wat natuurlike hoë suur het, wen ons al die pad,” sê Rosa Kruger, onafhanklike wingerdkonsultant. “Assyrtiko (2566) het juis oor hierdie eienskap ’n plek in Suid-Afrika. Ek dink baie verbruikers sal mal wees oor Vermentino (856). Dis soos die meeste Italiaanse mans – soet en verleidelik.”

Carl van der Merwe, uitvoerende hoof en keldermeester by DeMorgenzon, het ook van die varsheid en lineariteit van Assyrtiko gehou. Uit die rooiwyne wat geproe is, het Pinot Noir (943) en Carignan (274) belofte getoon. “Daar is ’n varsheid en lewe in dié Carignan.”

Samewerking verbreed klone-kennis
Sedert 2007 is daar groter fokus op die invoer van droogtebestande kultivars uit Mediterreense streke, wat geskik sal wees vir die Suid-Afrikaanse klimaat en omgewing.

Vititec voer spesifieke klone in om die kloonspektrum in die wynbedryf te verbreed, en ook op versoek van produsente. Altesaam 30 klone is byvoorbeeld op versoek van produsente ingevoer en vermeerder, waarvan vyf geproe is.

“Deur die pad saam met ons kliënte te stap – vanaf die aanvanklike versoek en invoer tot die uiteindelike vestiging en oes van hierdie nuwe wingerde – win ons self ook noodsaaklike inligting in oor hoe spesifieke wyndruifklone in gebiede anders as die Vititec grondves- en moederblokke sal presteer,” sê Charles.

Hierdie benadering skakel in by die Gen-Z wingerdprojek, ’n bedryfsinisiatief wat deur Vinpro se wingerdkundige konsultasiediens gekoördineer word en waarvan Vititec ’n belangrike vennoot saam met ander belanghebbers is. Die projek het ten doel om die nuutste tegnologie, navorsing en praktyke na die onderskeie streke te neem deur proefpersele te vestig en die bevindings deur demonstrasiedae te deel.

Onder die Gen-Z vaandel het Vititec onlangs een van elk van die tien beskikbare Chenin Blanc-klone by Opstal Landgoed in die Slanghoekvallei gevestig, in samewerking met Vinpro-spesialiste, om die resultate in hierdie streek te vergelyk.

Twee demonstrasieblokke van 220 verskillende wyndruifklone kan by Vititec en Vinpro se hoofkantoor in die Paarl besigtig word.

Aan die voorpunt
“By Vititec stel ons nuwe globale standaarde vir plantmateriaal,” sê Nico Spreeth, hoof uitvoerende beampte van Vititec. “Deur hierdie proe wil ons nie net die kloon- en kultivarspektrum in die Suid-Afrikaanse wynbedryf vergroot nie, maar ook verseker dat ons op hoogte van tendense in die Suidelike Halfrond bly.”

Vititec is ’n filiaal van die bedryfsliggaam Vinpro en in die Paarl gebaseer, met addisionele persele in Vredendal en Grondves buite Stellenbosch. Die maatskappy fokus op die virusreiniging van wingerdplantmateriaal, asook op die ontwikkeling, vermeerdering en voorsiening van wingerd- en wynkundig geselekteerde plantmateriaal aan die bedryf in die vorm van geënte wingerdstokke en wingerdplantmateriaal wat vir enting geskik is.

Vititec voorsien meer as 95% van die bostokplantmateriaal en nagenoeg 50% van die onderstokplantmateriaal aan die Suid-Afrikaanse wynbedryf. – Persverklaring